Dit reën ook, soos dit droom; of omgekeerd.

Sy sug - sê sag: "Ek het nie geweet die reën het so `n groot woordeskat nie." Hy kyk na haar; die logiese vraag slegs in wenkbrou parentese bo sy stil oë. Hulle verstaan mekaar se swyetaal ook. Sy gaan voort: "Hier, deuskant die Vaal, het dit jare terug glo soms ook sag gereën. Van ek gekom het ken ons skynbaar net die bulderende, vinnige DANKIEVIRDIE DONDERSTORM - monosillabies. Die dae van sagte geelperskereën, veertien dae aanmekaar, hoor ons net van." Hy dink: Sy praat asof sy `n storie vertel, iets wat sy vir iemand anders geskryf het.

"Nou kom hierdie laat Januariereën" vevolg sy, "en vir dae trek `n miswolk die Magalieskruine toe. Ek word op `n Sondagoggend alleen in my sinkdakhuisie wakker en hoor die ritseltaal, skoenlappervlerkies buite teen die dak in morse kode." Janee, dink hy, hier kom die storie nou. Sy het dit natuurlik verlede naweek uitgedink toe ek in Moskou was en dit reeds vir `n lang e-adreslys in vêraf lande gestuur om hulle te laat terugverlang. So sê sy - baie subtiel - vir hulle "Ek bly net hier; vlug nie vir die taak om `n verskil te maak waar dit nodig is, waar die behoefte is nie." Dis `n geloofsding by haar.

Sy gaan voort, terwyl sy wonder of haar e-pos almal bereik het, en wat hulle dink. " Later staan ek onder `n warm stort, sien die blinkers op die bome buite en probeer in gedagte `n leksikon saamstel van reëntaal, seëntaal. Maar na die derde dag word my leksikografie partituur, woorde vir kontralto's, liriese soprane, tenore, en soms `n vêraf bas roffelend in die agtergrond. Dan soek ek die tonaliteit van wisselende klanke: ligte perkussie onder die geut se drup, die pizzicato van fyn sproei op witstinkhoutblare, en natuurlik die sussende legato's op die sink, oorhoofs." Nou is dit `n monoloog, dink hy.

"Druppels, druppels druppels" fluister sy, "Ek moes orkestreer. Maar ek moet seker nog leer skilder ook, `n soort dekor; want aan die blink van die druppels kan nóg musiek nóg liriek reg laat geskied." Sy bly lank stil, draai dan na hom en soen hom sag op die vraagteken tussen sy wenkbroue. " En wat dink jy tussen al dié plooie?"

Johann

Maak geen misbruik van dit gedicht.
Do not misuse this poem.
Meer informatie / more information gedichten@indronten.nl